NCYWG Logo NCYWG

Northern Cape Yellowfish Working Group

Meetings

Amptelike Vergadering

Op 12 April is daar 'n amptelike komitee vergadering by Windsorton gehou.  Alhoewel almal reeds vroegtydig uitnodigings ontvang het, was die opkoms uiters swak en slegs die bestuurskomitee en een lid was teenwoordig.
Ons wil graag hê dat soveel moontlik lede ook hierdie vergaderings bywoon, aangesien daar baie belangrike besluite geneem moet word, besprekings oor funksies, klinieke, hengeluitstappies, bewaring en hengelplekke gedoen word en ook amptelike stemme plaasvind.  Die klub se bestaan is per slot van rekening vir die lede en die klub is die lede!  Sonder lede kan geen organisasie voortbestaan nie!

Die volgende openbare punte is op die agenda bespreek:

  • Lilydale / SAN Parke
    Soos die meeste lede reeds weet is Lilydale Lodge in Desember 2007 amptelik aan SAN Parke oorgedra en word nou nie meer as privaat lodge en reservaat bedryf nie.
    Benewens die vorige Bell's hengelfeeste wat al daar plaasgevind het, is daar ook 'n aktiewe vismerk program in plek gestel en Lilydale word as een van die werkgroep se amptelike bewaar areas gesien.
    Die bespreking was oor die voortbestaan van die bewaar area en vismerk program asook oor die bewarings borde wat nog daar opgerig moet word.
    Daar is besluit dat Harm 'n amptelike vergadering met SAN Parke en Lilydale se bestuur sal reël om hierdie onderwerpe te bespreek.
     

  • CAR (catch and release) kennisgewing borde
    Etienne en Harm het 'n bord ontwerp wat die belangrikheid van CAR uitspel en ook wat gedoen moet word as gemerkte geelvisse gevang word.  Hierdie borde sal op strategiese plekke by ons amptelike bewarings gebiede (Nkolo en Lilydale) opgerig word as deel van die bewusmakingsveldtog met die publiek.
    Etienne sal die proewe aan die res van die komitee voorlê vir goedkeuring, waarna kwotasies verkry en die oprigting gedoen sal word.
    Die fondse sal uit die werkgroep se rekening beskikbaar gestel word.
     

  • Ledesake
    Metodes vir die werwing van nuwe lede en lidmaatskap hernuwing van bestaande lede is bespreek asook die rol van die sameroepers en die amptelike ledelys.
    Werwing van nuwe lede kan baie vergemaklik word deur uitnodiging en deelname aan uitstappies soos in die voorgestelde jaarprogram vervat, bekendstelling deur bestaande lede en advertensie materiaal soos pamflette by strategiese plekke, klub hemde, pette en sakwapens.
    Die opgedateerde ledelys sal op die webblad beskikbaar gestel word onder die afdeling wat slegs vir lede toeganklik is.  Elke opbetaalde lid kry 'n unieke gebruikernaam om toegang tot hierdie deel van die webblad te verkry en die gebruikernaam verval automaties aan die einde van Mei.  'n Nuwe gebruikernaam word jaarliks aan alle opbetaalde lede uitgereik om ongewenste toegang tot sensitiewe inligting te vermy.
     

  • Verkiesing
    Hardus Coetzer het ongelukkig afstand gedoen van sy pos as voorsitter as gevolg van werksomstandighede.
    'n Amptelike verkiesing is beroep en dit is met trots dat ons vir Etienne Benade aankondig as nuwe voorsitter van die Klub en Werkgroep.  Baie geluk Oubaas en weet dat jy enige tyd op enige een se knoppie kan druk vir hulp!
     

  • Jaarprogram
    Daar is nog nie 'n amptelike jaarprogram vir 2008 beskikbaar gestel nie en ons nooi almal uit om voorstelle in te dien vir uitstappies, klubnaweke, vliegbind byeenkomste of watter items ookal vir almal van waarde kan wees.
    Daar is 'n inter-aktiewe kalender op die webblad beskikbaar waar voorstelle deur enige lid geplaas kan word.  Na goedkeuring (binne 24 uur van plasing) sal die inskrywing aktief wees vir almal om te sien.
     

  • Bell's 2008
    Voorlopige datums is bespreek sodat borge en die media betyds in kennis gestel kan word van hierdie elite funksie wat jaarliks deur die werkgroep aangebied word.
    Dit wil voorkom of reëlings maar kan voortgaan vir die tweede naweek van Oktober (16-19 Oktober 2008) by Nkolo Spa op Christiana.
    Dawie Ras het weereens sy staatmaker hulp aangebied met die reël van hemde asook reëlings met Bell's Whisky en ander borge.
    Advertensie en media kontak met Sheena Carnie sal deur Etienne Benade behartig word en Gert Bronkhorst is opgesaal met die voorlopige reël van verblyf by Nkolo.  Met die uitleg van erwe op die terrein, lyk dit of verblyf vanjaar beperk gaan wees tot 10x 2 bed chalets, kampeer of hotel.
    Amptelike reëlings sal bekendgemaak word sodra alles bevestig is en weereens sal ons 'n vergadering moet beroep om 'n werkskomitee te verkies wat lede insluit.
     

  • NCYWG pamflette en projekte
    Die werkgroep het voorheen inligtingspamflette laat druk wat beskikbaar gestel was by toerisme kantore, gastehuise en lodges, hengel winkels en betrokke staatsdepartemente se inligtings toonbanke.
    Die reëling is algemeen aanvaar soos in die verlede en 'n nuwe ontwerp is deur Carl Nel voorgelê vir goedkeuring, waarna die drukwerk en verspreiding sal voortgaan.
     

  • OVRYCMA
    Dirk Human her vroeër vandeesmaand die OVRYCMA konferensie bygewoon en terugvoer sal per e-pos geskied aangesien Dirk amptelik verskoning aangeteken het vir die bywoon van hierdie vergadering.
     

  • Webblad en nuusbriewe
    'n Nuwe domain (http://ncywg.co.za) is geregistreer as die amptelike webtuiste van die Noordkaap Geelvis Werkgroep sowel as die Drie Provinsies Vlieghengel Klub.
    Voorstelle vir inhoud, nuuswerwing, advertensie inkomste, ens. word ingewag van alle klublede.
    Christo Crywagen het voorgestel dat die jaarlikse hernuwingskoste van R50.00 en die maandelikse onderhoud van R45.00 deur klubfondse gedra word.  Die voorstel is algemeen aanvaar en reëlings sal by die bank gedoen word vir maandelikse oorbetalings.
     

  • Finansies
    Die finansiële state van die klub en werkgroep is deur Christo en Etienne voorgelê vir bespreking en algemeen aanvaar as korrek.
    Klub fondse word uitsluitlik deur ledegeld opgebou en word aangewend vir algemene administrasie asook bydraes tot die gesins geselligheid wat elke jaar in November plaasvind.
    Die werkgroep is 'n nie-winsgewende organisasie wat uitsluitlik deur borgskappe en donasies gefinansier word en die fondse word aangewend vir die reël van die Bell's fees, bewarings projekte en bewusmakings veldtogte.
     

  • Algemene bespreking
    Nuwe wetgewing dat alle bootoperateurs 'n skippers lisensie moet hê, het daartoe gelei dat die "Varswater Skippers Akademie" kursusse aanbied in die verband.
    Detail sal beskikbaar gestel word sodra Christo Cruywagen meer inligting oor die saak ingewin het.
     

  • Volgende vergadering
    Die bestuurskomitee en sameroepers sal amptelik per e-pos en SMS in kennis gestel word, waarna die sameroepers hulle ledegroepe sal laat weet van die datum, tyd en plek.
    Ons wil graag soveel as moontlik lede teenwoordig hê, aangsien besluite wat hier geneem word ons almal, asook die klub se voortbestaan raak.

Die vergadering is om 16:15 gesluit verklaar en amptelik verdaag.